Wat op My Hart is

Moet ek kerk toe gaan?

Ek weet nie van julle nie, maar dit voel vir asof baie van ons alledaagse lewe meer ingewikkeld geword het as wat nodig is. Kom ons kyk na ‘n blikkie coke. Daar was op ‘n tyd slegs een opsie. Daar word toe gesê dat hierdie opsie baie sleg is vir jou gesondheid en eweskielik kry ons coke-light, met verminderde suiker. Na ‘n paar jaar word daar gese van die chemikalieë in coke-light bevorder kanker en nou kry ons nie meer coke-light nie maar coke-zero. Coke zero pas nie by almal se smaak nie toe kry ons verskillende weergawes van coke: coke met stevia, coke met minder suiker, coke sonder kaffiene, en nogsteeds coke zero en verskeie ander geure. Die grap van die hele storie is dat oorspronklike coke is nie meer beskikbaar nie, en om ‘n blikkie coke te koop omdat jy dors is het iets geword waaroor jy moet dink. Bring jy dit op in gesprekke is daar sterk debatte oor watter coke die beste proe of die gesondste is, maar almal mis nog oorspronklike coke.

As ‘n blikkie koeldrank so ernstig opgeneem word kan die rol wat kerk in my lewe speel ook ‘n ingewikkelde vraag raak. Daar was ‘n tyd wat as jy nie kerk toe gegaan het op ‘n Sondag nie het dit beteken: of jy werk, is weg op vakansie, of jy glo nie in Jesus nie. Vandag is ons te besig om te stry oor wat die regte dag, formaat, ideologie, sosio-ekonomiese fokus, leierskap struktuur en wat die regte teologiese siening is om net te sê dat ons bymekaarkom as gelowiges om Jesus te eer en aanbid.

Kom ons kyk of ons by ‘n eenvoudige antwoord kan uitkom met al hierdie ingewikkelde vrae wat hang.

Wat is kerk?

Die eenvoudigste definisie van kerk verwys na ‘n groep mense wat vir die doel om Jesus te aanbid saamkom. Die woord kerk kry ons van die Griekse woord ekklesia wat nie noodwendig ‘n geestelike woord is nie. Dit verwys na ‘n groep mense wat deur ‘n gesag vir ‘n spesifieke doel saamgeroep is. Omdat Jesus die gesag is (Kol 1:18) wat ons saamroep, is die kerk saamgeroep vir Sy doel.

Wanneer ons die kerk so begin verstaan dan word die prentjie baie groter. Kerk is nie net die samekoms op ‘n Sondag (of Saterdag) nie. Dit is elke keer wat ek ‘n gelowige ontmoet vir Jesus se doel. Kerk is in ons huise, by ons werk, in coffeeshops, by malls, ens. Enige plek waar ek mense ontmoet met Jesus as fokus, is kerk.

Jesus is die hoof, ons is die liggaam. Daar is baie denominasies, para-church groepe, programme en plekke waar mense bymekaar kom, maar dit form alles deel van die liggaam van Jesus.

My persoonlike verantwoordelikheid

Die oomblik wat ek my lewe vir Jesus gee is ek deel van hierdie liggaam en het ek ‘n rol in daardie liggaam. Paulus verduidelik dit baie goed in 1 Korinthiers 12:12-31. Hy verduidelik dat ons deur een Gees gedoop is tot een liggaam, maak nie saak wie jy is of waar jy vandaan kom nie, en in daardie liggaam is jy deel, jy het ‘n doel. Die liggaam moet saam werk en saam beweeg om die doel van die hoof te bereik. As ‘n deel swak is tel die ander dele dit op, as ‘n ander deel verneder is bedek die ander dele dit.

Dit is wat kerk moet wees.

Om kerk toe te gaan is dan nie net om op te daag op ‘n Sondag nie maar om deel te neem aan die liggaam. Dit verwys nie noodwendig na programme nie maar om verhouding te bou met my mede gelowiges, om mekaar te ondersteun en te dra.

As ek dan nie deelneem nie dan beteken dit die liggaam is armer en swakker, want my rol word nie vervul nie. Ek weet baie mense voel dat hul eerder self by die huis sal aanbid en dit is goed om die Here in jou huis te eer, maar dit het ‘n negatiewe impak op jouself, jou geestelike groei en die liggaam van Christus as ek my isoleer van Sy groter liggaam, omdat die impak wat ek kan maak, nie daar gebeur nie.

Wat as ek seergekry het

Ek erken dat die prentjie van kerk as die plek waar gelowiges saam aanbid, mekaar ondersteun en dra, nie die prentjie is wat meeste mense het nie. Ons het die perfekte hoof, Jesus Christus, en ‘n baie gebroke liggaam. Met die beste intensies is die verkeerdste goed toegelaat tot op die punt wat mense ‘n verwarde en verdraaide prentjie van Jesus het. Kom ons praat hieroor:

  • As iets gedoen word wat teen die wil van God is, is dit sonde, ongeag wie dit doen.

Ons maak maklik die fout om aan te neem dat al God se mense God se standaard altyd reg hou, en wanneer daardie mense val dan dink ons daar is fout met God se standaard. Sy standaard is perfek, en wanneer ons kort val van dit, sondig ons. Dit beteken dat al sê mense dinge in die Naam van Jesus, of doen dinge in die Naam van Jesus, as Jesus dit nie gedoen wil hê nie is dit verkeerd in Sy oë. Wanneer jy onskuldig verwerp is, het nie Jesus of Sy kerk jou verwerp nie, maar gebroke mense wat verkeerd opgetree het, en hulle gaan voor God verantwoording doen vir hul aksies.

  • Die kerk is nie perfekte mense wat stukkende mense probeer help nie, dit is stukkende mense wat stukkende mense help.

Hierdie klink asof ek verskoning maak vir verkeerde aksies, maar dit is tog die waarheid. Nie een van ons is perfek in hoe ons dink, wat ons doen of wat ons sê nie. Ons is nog besig om te groei. Dit is maklik om die kerk weg te gooi omdat ons die mense daar hou volgens ‘n standaard wat ons self nie kan nakom nie.

  • Nie twee kerke is dieselfde nie.

Ons gee maklik op op kerk omdat ons dink alle kerke is dieselfde. Ek het al aan vier kerke behoort van dieslefde denominasie en ek belowe jou, elkeen verskil drasties van mekaar. Daar is ‘n plek vir jou, partykeer is dit net nodig om ‘n bietjie te soek.

Ek is regtig jammer vir die seer wat jy ervaar. Ek wil wil verskoning vra vir die geluk wat by jou gesteel is. Maar moenie toelaat dat die res van jou lewe definieer nie. As jy by ‘n restuarant kom en die kos het ‘n slegte effek op jou, is dit ‘n goeie rede om nie terug te gaan na daardie restaurant toe nie, dit is egter nie ‘n goeie rede om op te hou eet nie.

Ek bid dat die Here jou sal lei deur Sy Gees na die plek waar Hy jou wil hê. Die plek waar jy jouself kan uitleef en ‘n verskil maak in hierdie wêreld!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *