Wie ek is
My naam is Cassie Cilliers en ek is ‘n pastoor in die AGS van Suid Afrika sedert 2015. Ek is geseënd met die beste vrou en pragtigste dogtertjies in die wêreld. Ons woon tans in Bapsfontein, Gauteng.
Die lewe het ‘n interessante pad met my gestap. Ek het baie gemaklik groot geword en was baie seker oor hoe ek die wêreld en die Here gesien het. Na ‘n paar onmoontlike situasies oor my pad gekom het, het ek besef die lewe is nie so eenvoudig soos wat ek gedink het nie. My gemaklike manier van dink en deur die lewe gaan is vernietig en ek moes weer myself en my God vind.
As gevolg van hierdie paadjie wat ek stap sien ek dinge bietjie anders. Ek het ‘n passie ontwikkel om God se Woord prakties uit te leef in ‘n deurmekaar en donker wêreld. In hierdie proses het ek ontdek dat ek nie alleen op my weg is nie. Ek het mense begin ontmoet wat deur dieselfde verwarring moes veg en weer die waarheid vind.
Vir hierdie rede glo ek dat ek op hierdie aarde gesit vir die wat bietjie anders dink, sodat ons saam nader kan groei aan God, Hom bekend maak en Sy liefde wys aan ‘n wêreld wat Hom haat.
Verder het ek besef dat my plek is op die platteland. Ek het groot geword in ‘n klein dorpie en het nog net in klein dorpies gedien as pastoor. Ons pastore op die platteland se lewens lyk anders as in die stad. Die verwagtinge en uitdagings is anders en dit is soms moeilik om antwoorde vir ons situasies te kry.
Dit is hoe die platteland se pastoor blog gebore is. Om die te help wat God soek in die tyd wat ons leef, en om my mede predikante op die platteland bloot te stel aan hulpbronne wat my gehelp het.
Dankie dat jy die tyd vat om te lees wat op my hart is en dit is my gebed dat jy sal groei en in ‘n dieper en voller verhouding met Jesus leef.
Liefde
Pastoor Cassie Cilliers